15 Junie 2023 / Jesus was hier, jy moet kies / Johannes 15:22-25
“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie. Wie My haat, haat ook my Vader. As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader. Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’ - Joh 15:22-25
Jesus se klem hier lê daarop dat Hy was self hier op aarde en het aan die massas mense verskyn en wonderwerke gedoen. Jesus het Homself aan die mensdom geopenbaar en die wat gehoor en gesien het van Jesus se wonderwerke en Sy woorde, kan dit nie ignoreer nie. Hulle moet OF dit aanneem OF hulle moet dit verwerp. As hulle dit verwerp, het hulle geen verskoning nie en is hulle skuldig aan hul sonde.
Dieselfde geld vir ons ook. Jesus se woorde en wonderwerke is vasgepen deur ooggetuies van die vroeë kerk en wanneer ons daarvan lees, dan moet ons een van twee besluite maak. Of ons moet dit aanvaar of ons moet dit verwerp. Die probleem is, jy kan dit nie ignoreer nie. Jy moet jouself af vra, het dit werklik gebeur of nie, maar jy kan nie op die draad sit nie.
Omdat Jesus Homself aan die mensdom geopenbaar het, het ons die verantwoordelikheid om te besluit of ons Hom gaan aanvaar of nie. En, ons sal die gevolge van daardie besluit dra. In hierdie lewe, en die een hierna.