11 April 2023 / Streef vir ander se vrede / Spreuke 12:20
Dié wat op kwaad uit is, doen dit omdat hulle vals is; dié wat beraadslaag vir vrede en voorspoed, doen dit met vreugde. - Spr 12:20
Die onregverdige of kwaadwillige persoon se hart is gevul met valsheid. Hulle word menigte kere in Spreuke so gekwalifiseer. Die teenkant is die regverdige wat graag wil hê ander mense moet vreugde en vrede beleef en hulle probeer dit ook bewerkstellig - hierdie persoon ontvang vreugde vir die goeie wat hul probeer doen en hul harte is ook gevul met vreugde.
Dink 'n bietjie
Is ander mense se vreugde en vrede ooit op jou prioriteitslys? Ons is geneig om te dink aan ons eie vreugde en vrede - maar wat van ander mense se vrede en vreugde? Wens ons dit hulle toe? En wat doen ons daaromtrent om dit te maak gebeur?