5 Augustus / 1 Korintiërs 13:4-7 / Liefde

Hierdie is 'n baie bekende vers wat gereeld aangehaal word veral by troues, maar tog vergeet ons so maklik wat hierdie vers sê en wat dit eintlik van ons vereis.

5 Augustus / 1 Korintiërs 13:4-7 / Liefde
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.". - 1 Korintiërs 13:4-7

Hierdie is 'n baie bekende vers wat gereeld aangehaal word veral by troues, maar tog vergeet ons so maklik wat hierdie vers sê en wat dit eintlik van ons vereis. Ek glo dat hierdie vers tel vir alle verhoudings en wanneer ons beproef word of sukkel in 'n verhouding (watter soort dit ook al mag wees), is ons baie gou om maar net té maklik dit op sy te sit of vergeet.

Dit voel soms onmoontlik... veral die verdra alles, is nie liggeraak nie, soek nie sy eie belang nie en dit verbly hom nie oor onreg nie. Ek is seker elkeen van ons vergeet in die oomblik van so 'n situasie wat eintlik van ons verwag word. Dit is wel nie onmoontlik om hierdie eienskappe te beoefen en daarna te streef nie, dit staan immers in die Woord vir 'n rede en met ons God is niks onmoontlik nie.

God het ons geskape in Sy beeld en as ons Hom werklik lief het en aanvaar as Saligmaker dan sal ons hierdie eienskappe kan bekom, maar dit gaan oefening en gehoorsaamheid kos.

Ek weet ek het die Here al telkemale in hierdie opsig teleurgestel, maar ek gaan 'n punt daarvan maak om die vers op my hart te skryf sodat as ek myself weer in hierdie situasies bevind, ek myself sal kan herinner aan my God se goedheid en grootheid en dat Hy vir my gesterf het. Dus, is dit moontlik om hierdie eienskappe te kan uitleef.

Wat gaan dit my baat om nie liefde teenoor ander te toon nie?

Huiswerk

Gaan lees die vers gerus, skryf hom in jou hart en let op hoe jy ander in moeilike situasies hanteer.  Onthou God het vir ons gesterf omdat Hy ons so lief het, daardie persoon wat jou beproef, God het daardie persoon net so lief soos hy jou lief het.